“Afspraak met Eergister”: Op reis in ou reisverhale #Leeskring

This post is in Afrikaans, but earlier this week I published a different one in English – so you don’t have to turn around if you don’t understand this one. Read here about the fun I’m having texting a novel. 

Ou reisverhale hou vir my ‘n besondere bekoring in. Kyk, natuurlik is daar iets te sê vir die gemoedsrus wat ‘n blink boek, of dingetjie op jou foon met splinternuwe inligting, verskaf wanneer jy natgereën in ‘n vreemde land ‘n slaapplek soek. Maar deesdae gaan ek ook swaar êrens heen sonder ‘n reisverhaal of ‘n roman wat afspeel by my bestemming. Vandag sal  Springbok round the Corner  jou kwalik die regte pad deur  sommige dele van Suid-Afrika kan beduie, maar, ai, jy sal nie spyt wees as jy deur die Vrystaat ry met ‘n paar van die dinge wat Basil Fuller daar te siene gekry het in jou voosgevatte notaboekie nie.

Betrand Westphal skryf in La Géocritique. Réel, fiction, espace (2007), hoe die belewenis van ‘n spesifieke plek verryk kan word deur daarna te kyk deur die oë van skrywers en karakters. In die volgende aanhaling vertel hy hoe Parys, byvoorbeeld, gelees kan word as ‘n reeks lae van “Paryse” deur verskeie skrywers se uitbeeldings van Parys bymekaar te sit:

Dans le Paris de Calvino et de Eco, il y a, comme autant de poupées gigognes, le Paris de Balzac, de Dumas ou de Outrillo. La géocritique permet de reconstituer le cheminement intertextuel qui mène à ce travail de représentation de l’espace. Le coefficient d’impact serait plus élevé encore si, plutôt que de percevoir ce qu’il y a de textuel dans un espace donné, on considérait le lieu comme un texte. –  bl. 247

[Binne die Parys van Calvino en Eco is daar, soos binne Russiese poppies, die Parys van Balzac, Duma of Outrillo. Die geokritiek maak dit moontlik om die intertekstuele weg wat lei na hierdie voorstelling van ruimte te herkonstrueer. Die koëffisiënt van die impak sal selfs hoër wees, indien die plek as ʼn teks bekou word, in plaas daarvan om die tekstuele elemente in ʼn bepaalde ruimte te beskou.]

Met ander woorde: elke beskrywing van ‘n plek voeg ‘n laag , of selfs ‘n paar lae, tot die bestemming. Dis wat my opgeval het in Berlyn destyds: hoe die geskiedenis in lae opgeslik lê teen mure vol koeëlgate en brokkies sementmuur – die elektriese geraas van ‘n wêreldstad in jou ore. Jy staan op een plek en draai stadig in die rondte: barok – Wêreldoorlog – Stasi – WiFi – soveel Berlyne van soveel eras. En dit is maar net wat in die strate te siene was: in my agterkop was die Berlyn van Goodbye Lenin, Berlin: Alexanderplatz… en voor my was die Alexanderplatz en die bolronde televisietoring. Wanneer ‘n mens, soos Westphal voorstel, ‘n plek as ‘n teks lees, bring die lees van ouer tekste die lae wat in die hedendaagse landskap onsigbaar geword het, na vore.

Die Afrikaanse skrwyer Abraham H. de Vries het vanjaar 80 geword en ons kan gerus ‘n slag gesels oor een van sy boeke.  Ek kom van die Klein-Karoo af en het onlangs met die deurryslag in Ladismith, dié plaaslike skrywer se Afspraak met eergister: Griekse reisjoernaal Oktober 1965 tot April 1966 (Tafelberg, 1966), in die hande gekry (Daar is ‘n tuisnywerheid by die vulstasie op linkerhand, soos jy Kaap se kant toe ry, wat altyd van sy boeke aanhou).

Met die intrapslag is dit reeds duidelik dat ek nooit as ek na Griekeland sou reis dieselfde land sal aantref as hy en sy vrou, Ri, nie. Inteenteendeel, die sestigerjare is eergister genoeg – laat staan nog die antieke tye. Maar geen generiese reisgids vir bekpekkers kan die Griekse landskap meet aan die Klein-Karoo se koppies nie. Die boek is ryk aan Suid-Afrikaanse verwysings en bied aan die leser ‘n eiesoortige toegang tot hierdie bestemming:

Daar word vertel dat Apollo in die hawetjie Krisa (Itea) voet aan wal gesit het, nadat hy van sy geboorte-eiland, Delos, af weg is om die hele Griekeland te verower. By hom het hy ʼn dolfyn as lyfwag gehad en hyself was vermom as ʼn ster. Van Krisa af het hy opgeklim tot by die skuilplek van die draak wat oor Delphi gewaak het, en nadat hy dié doodgemaak het, het hy aan al die gode verkondig dat dit wat sy oë kon sien, van toe af syne was. Wat hy gesien het, is wat besoekers aan die tempel in die ruïnegebied vandag nog sien – waarskynlik een van die mooiste vergesigte wat daar bestaan – vir wie nog nooit vantevore op Towerkop naby Ladismith in die Klein-Karoo gestaan het nie. – bl. 69

Saam met hom op reis is ook die werke van ander skrywers, onder andere antieke beskrywings en legendes, wat hy in Afrikaans laat saamvleg om skerp draaie en laat rondkyk in die straatkafees:

Links van ons speel die see wegkruipertjie agter lae rotsformasies in en regs kom die berg Olumpos stadig los uit die vroegoggendmistigheid. Vir die ou Grieke was daar geen twyfel dat dit die hoogste berg in die wêreld was nie. Daarom het hulle dit beskou as die woonplek van Zeus, die oppergod. ʼn Jakkals loop oor my graf terywl ek doen wat die Grieke van vroeër nie sou gewaag het nie – ek kyk na die pieke wat nog toe lê onder die mistigheid. Omdat die gasstofie (wat ek elke keer met ʼn gaatjiesoekende ritueel aanmekaar moet sit) stadig kook aan die water, kry ek kans om my sagtebanduitgawe van Homerus rustig te sit en deurblaai. – bl. 21

Sy vrou se, dikwels droë, kommentaar dra by tot die humor wat die toon aangee soos landskap, mitologie, filosofie en politiek mekaar afwissel tussen koppies koffie, tempels en eilande. Die kleurvolheid van die tonele word slegs oortref deur die kleurvolheid van die Afrikaans waarin dit beskryf word:

Links van ons sit ʼn boepens-Griek en eet met sy servet onder sy boordjie ingedruk. Sy vrou sit met haar hande op haar skoot en die dogtertjie tussen hulle hou vir die musikante tyd met haar witpuntskoentjies. Die eienaar van die kafee is ʼn maer man wat sonder enige emosie alles gadeslaan. Teen die muur het hy nagemaakte oudhede gehang, ʼn ou seemanspet en ʼn foto van sy vader.

“En as jy alles neerskryf soos iemand wat ʼn wasgoedlys maak; watter sin het dit?” vra Ri.

“Dit hoef nie sin te hê nie,” antwoord ek. Met my neus tussen die jasmynblare. “Tot nou toe was alles bont genoeg!” – bl. 40

Vroeg in die boek, dink ek aan ‘n episode van Vetkoekpaleis waar Spira vir Antie Poppie, “καλή μέρα ” gegroet het – en ek soos ‘n kind in ‘n speelgoedwinkel gevoel het. Gedurende my eerste gefaalde pogings om Grieks te leer, het ek die opwinding meegemaak ons twee reisigers ervaar met hulle ontsyfering van die Griekse alfabet:

Ons sit en spel soos kinders die woorde op die advertensies uit, want die Griekse alfabet het 24 letters, waarvan net 10 as hoofletters en 9 in gewone skrif ooreenstem met dié van ons. Die res is letterlik en figuurlik Grieks, totdat ʼn mens agterkom dat daar maar ongeveer ʼn dosyn letters oorbly om te leer en dat jy die vermoëns wat jy as ʼn tjokkertjie in die laerskool gehad het, nie kwyt is nie: dit duur hoogstens ʼn paar minute om hierdie letters te leer, en Grieks is daarna nie meer so Grieks nie, want die bewoording van byvoorbeeld advertensies is nou eenmaal internasionaal. Dan, op ʼn aand, laat ʼn Griek vir jou ʼn notatjie en begin die plesier van voor af, want hulle verwag dat jy nog ʼn handskrifdeskundige ook moet wees! – bl. 18

Die boek trek mens in by gesprekke en stories langs die pad: die avontuur van ‘n ander taal,’n dorpsbegrafnis, ‘n kerkie so klein dat daar net plek is vir ‘n kat, ‘n bakleiery op straat na ‘n motorbotsing.  En maak nie saak watter Griekeland daar is as ek dit die dag besoek nie, Afspraak met Eergister se oezoe en grotte en handgebare sit reeds daar vir my en wag.

Daar is sekere plekke, net soos mense, wat die vermoë het om al die brandnekels wat ʼn mens in jou het, te laat verwelk. Daphni is so ʼn plek. Toe ons daar wegry, pluk Ri ʼn paar lourierblare af en steek dit in my baadjie se bosak, soveel te sê: bly nou om hemelsnaam die res van die dag ook kalm. – bl. 60

Ook ‘n boek soos hierdie laat die brandnekels verwelk. Watter reisboek staan op jóu stowwerige rak?

4 thoughts on ““Afspraak met Eergister”: Op reis in ou reisverhale #Leeskring

  1. Wonderlik! You have a way of drawing one in and making it exciting. It also makes me want to write a memoir of travels in Greece.

  2. Welkom terug!!! Pragtig dankie, soos Pat skryf, dit maak mens sommer lus om jou eie reisverhaal of twee te skryf!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.